Vat vandag jou kleuter se handjie. Leer haar dink, droom en skep. Babataal word woordjies. ’n Geskrabbel word prentjies. Treëtjie vir treëtjie ontwikkel sy dalk in ’n gerekende joernalis.

 

DEUR CHARLENE JORDAAN KOTZÉ

 

Om ’n besonderse joernalis te wees, verg vars idees en gedrewe passie. Almal word gebore met ’n behoefte en vermoë om te skep. Maar die vrees vir mislukking steel later ’n mens se waagmoed. Bou nou reeds aan jou kind se selfvertroue.

Jy kan ’n paar dinge doen om haar daai hupstoot te gee:

Plant die joernalistieke saadjie

Twintig minute se lees elke dag gee jou baba joernalis ’n enorme voorsprong. Volgens Gretel Coetzee, stem-afrigter en opvoeder van Namibië, kan ’n fetus klanke hoor selfs voor die oortjies behoorlik ontwikkel het. Kinders erken woorde lank voor hulle begin praat. Jy sal nie ’n enkele minuut vermors met jou lawwe verhaaltjies nie – storietyd word baie onderskat.

Beloon jou nuuskierige klein joernalis

Die mens se ses sintuie is die basis van kennis. Sodra sy met babataal en vet klein vingertjies begin wys na voorwerpe, moet jy lekker wild handeklap en haar honger maak om verder te verken. ’n Goeie joernalis is mos ’n nuuskierige karakter.

Jou junior joernalis moet nooit ophou vrae vra nie

Volwassenes wat ophou vrae vra, word nougeset, eng en bevooroordeeld. Elke “maar hoekom?” wat jou nuuskierige agie vra, is ’n skattige bewys dat haar horisonne verbreed.

Joernalistiek verg luister, lees én skryf

Na die “maar hoekom?” vragies begin die “ek wil self” stadium. Sterkte! Laat jou kind van jongs af babbel en skrabbel oor wat in haar verborge kleuter-wêreldjie aangaan. Jy sal sien sy gaan gou ’n ywerige boekwurmpie raak, al is dit net vir prentjies kyk. Binnekort gaan sy kamma skrabbel-skryf, en voor jy jou oë uitvee is sy ’n tienjarige met ’n joernaal vol geheimpies en idees. Menige goeie joernalis se loopbaan het waarskynlik ook by ’n dagboek begin.

Moenie haar toesprake skryf nie

Zora Neale Hurston het navorsing beskou as formalized curiosity. Die honger na kennis leer kinders waardevolle lesse. Stel jou voortiener heeltyd bloot aan gesonde nuwe inligting. Neil Armstrong het gemeen dat navorsing ook nuwe kennis wat geskep word, behels. Jou spruit se eie bondel observasies gaan haar help om gedagtes in toesprake om te sit. Sy gaan besef hoe magtig die ink in ’n pen is, wanneer sy begin opstelle skryf.

Betrek haar

Jou tiener joernalis moet weet dat haar idees van joune mág verskil, sonder dat jy haar gaan veroordeel.

Joernalistiek is soveel meer

Beklemtoon dat ’n joernalis meer is as net ’n skrywer. Op hierdie ouderdom dra haar kommentaar op Facebook en Twitter reeds waarde. Vlogging (video blogs), potgooie, en foto-joernalistiek gaan ook haar pad begin kruis.

Wees die ingeligte ouer

Vertrou haar om haar slimfoon verantwoordelik in te span as joernalistieke instrument vir Youtube, Facebook en Instagram. Haar kreatiwiteit mag jou dalk verstom.

Laat haar nou vry om te tweet en na hartelus te skryf. Die weergee van kennis op slim maniere, lei tot uitstaande joernalistiek.

 


Charlene Jordaan Kotzé het in 2001 ’n BA-graad in Kommunikasie- en Inligtingkunde deur Unisa voltooi. Massa-media het haar nog altyd geïnteresseer, so vanjaar was die perfekte geleentheid om haar horisonne te verbreed. Sy het ingeskryf vir die Tydskrifjoernalistieke kursus by SA Writers College. In hierdie tyd was sy ook bevoorreg om eerstehandse ervaring in die aanlynmediabedryf te kry, toe GLANS haar genader het om artikels en onderhoude oor bekendes te skryf en glansgeleenthede by te woon. Verder kon sy ook haar skryfvernuf met TROUKOORS se lesers deel. Sy is ook ’n fiksheidsinstruktrise en wanneer sy nie skryf nie, geniet sy dit om enige vorm van kunsvlyt aan te pak. Buitelugtyd saam met haar man en twee kinders is vir haar ’n baie kosbare belegging in hulle samesyn.