Is jou skryfstuk uiteindelik kant en klaar en jy gereed om dit aan ʼn uitgewer te stuur? Jippie! Maar voordat jy daardie ‘stuur’ knoppie druk, maak eers seker dat jy dit volgens hierdie belangrike stappe geredigeer het:

 

STAP 1: Doen jy die moeite sodat jou leser nie hoef nie

Laat jou kreatiewe sappe vloei en skryf die eerste weergawe sonder om jou teveel te bekommer oor grammatika, spelling of vorm. Om jou analitiese linkerbrein te vroeg aan te skakel wurg al die lewe uit jou skryfstuk uit. Fynkam jou werk eers agterna.

STAP 2: Lees jou stuk direk nadat jy klaar is daarmee en let op na enige opmerklike veranderinge wat jy wil aanbring.

STAP 3: Vat ʼn blaaskans.

Dit is ʼn goeie idee om aan ʼn paar skryfstukke gelyktydig te werk. Op hierdie manier kan jy ʼn paar dae/weke blaaskans vat en dan op ʼn later stadium weer met ʼn vars oog daarna kyk om die nodige veranderinge makliker te identifiseer.

STAP 4: Gebruik jou redigeringskontrolelys:

Leer skryf

Jou Druk-Uit-En-Hou-20-Punt-Kontrolelys

1.   Lewer jou skryfstuk dít wat jy in die prikkel belowe het?

2. Is jou invalshoek duidelik? Is dit vars?
 
3. Is daar logiese vloei van die een punt van die teks, na die ander?
 
4. Is die oorgangspunte vloeiend?
 
5. Het jy al die nodige inligting verskaf?
 
6. Bevat elke mening die nodige feite daar agter?
 
7. Het jy die storie gewys met jou woorde, eerder as om dit te vertel?
 
8. Het jou skryfstuk ʼn sterk gevolgtrekking?
 
9. Het jy in aktiewe tydvorm geskryf?
 
10. Het jy elke sin rodom ‘n visuele, aktiewe werkwoord gebou?
 
11. Het jy elke werkword rondom ʼn konkrete selfstandige naamwoord gebou?
 
12. Het jy eerder ‘n eenvoudige woord in plaas van ‘n onnodig lang een gebruik?
 
13. Is jou sinne kort en kragtig?
 
14. Het jy al die onnodige woorde, veral byvoeglike naamwoorde, uitgelaat en by die woordtelling gehou?
 
15. Is jou tydvorme korrek?
 
16. Is jou gesigpunt konstant van die begin tot die einde? (byvoorbeeld eerste persoon- of derde persoon verteller regdeur…)
 
17. Begin die meeste van jou sinne met ʼn onderwerp en ʼn werkwoord, gevolg deur ondergeskikte informasie op regterkant?  
 
18. Het jy sinne met woorde soos “Daar was…” en “Dit is…” vermy?
 
19. Het jy die gebruik van bywoorde minimaal gehou? (baie, eerder, ʼn bietjie, heeltemal, regtig, mooitjies, ensovoorts.)
 
20. Het jy die gebruik van voegwoorde gevarieer?