Kry en hou jou leser se aandag in 11 stappe.

  1. Skep die toneel met sterk, visuele werkwoorde

Sommige skrywers beveel aan dat die aantal werkwoorde wat jy gebruik, die byvoeglike naamwoorde in elke paragraaf moet oorskry.

Kyk na die volgende voorbeeld:

Dit is tienuur die aand en ʼn moeë Liana haar babaseun neer in sy wiegie. Sy steier terug na die sitkamer, sak ineen op die rusbank en skakel die radio met die afstandbeheerder aan.

Die musiek streel haar ore en sy maak haar oë toe en droom van sorgvrye dae.

 

  1. Gebruik ongewone of uitlokkende beskrywings.

Een treffende frase kan ʼn prentjie beter skilder as wat ‘n hele paragraaf kan.

 

Byvoorbeeld: 

“Die kerrie brand asof die rissies op ʼn uitverkoping was.”

“Die sigaret in sy hand lyk al kompleet soos ʼn aangeplakte sesde vinger.”

  

  1. Dit is algemene kennis dat ‘besonderhede die leser intrek en veralgemening hulle wegstoot’.

ʼn Goeie skrywer weet nét hoeveel besonderhede om te gebruik.

Kyk na die volgende stuk uit die Mail & Guardian (geneem uit Francois Nel se Writing for the Media in South Africa):

Eerste weergawe: Terwyl die hoëveld son begin uitsterf en die strale deur die rook van die stygende aandvure boor, herinner die opgewonde luim ʼn mens aan díé van ʼn rustige wandelpad langs die kuslyn; kinders speel sokker, seuns en dogters flikflooi met mekaar, vroue leun oor die buurt se heinings en hulle mans verruil slimpraatjies op die straat hoeke. Tot 7:08 die aand.

Die inleidingsparagraaf is te lank en bevat teveel onnodige woorde wat die leser se pas steur.

Tweede, geredigeerde weergawe: Die hoëveld son sterf uit en sy strale boor deur die rook van die aandvure. Die luim is lig: kinders speel sokker, seuns en dogters flikflooi, vroue leun oor heinings en mans deel slimpraatjies op straathoeke. Tot 7:08 die aand.

 

  1. Wakker onmiddelikheid aan deur tasbare, konkrete selfstandige naamwoorde en byvoeglike naamwoorde te gebruik in jou skryfstuk.

Byvoorbeeld: Winston Churchill se kreet tydens die Tweede Wêreldoorlog was: “Ek het niks om te gee behalwe bloed, ʼn geswoeg, trane en sweet nie.” Dit het ʼn algemene gesegde geword: ‘bloed, sweet en trane’. Maar let op dat die ‘geswoeg’-gedeelte uitgelaat is (omdat dit nie iets tasbaar is soos bloed, sweet en trane nie).

 

  1. Ontwikkel die gawe om jou leser se emosies te ontlok.

Wanneer ʼn leser emosioneel betrokke raak by ‘n skryfstuk, is dit meer waarskynlik dat hy dit sal klaar lees. Hier is ‘n uittreksel van so ‘n tipe skryfstuk wat handel oor Kersfees en geskeide ouers (deur Bizantz Raymond, USA Today):

Deur die jare vandat Marianne en Tom geskei is, het die drie kinders nie baie van hulle pa gesien nie. Na aanleiding daarvan het Marianne hom toe oorgenooi vir ete.

Die kinders se oë het helderder geflikker as die kerse op die tafel en hulle hoop het opgevlam. Sou hulle ouers weer bymekaar kom? Sou hulle weer ‘n gesin wees?

Nadat Tom vir die kinders hulle geskenke gegee het, het hy huiswaarts gekeer. Die kinders het in hul kamers gaan skuiling vind. Marianne het ineen gestort en gehuil.

Die elemente in hierdie voorstelling: die flikkerende oë, die gehuil en die kinders wat kamer toe gegaan het, wys die emosionele pyn van egskeiding duideliker as wat statistiek of vae verduidelikings ooit kan.

 

  1. Varieer sinslengtes.

Sinne wat te lank is, sit die leser af omdat dit die lees pas vertraag.

Korter sinne skep ʼn vinniger, opgewekte pas en werk goed om aksie te beskryf. Langer sinne is kalmerend en meer gepas vir verduidelikings en feitlike voorleggings.  

Probeer om ʼn goeie balans te handhaaf.

 

  1. Vermy clichés.

Hierdie sluit frases in soos: “my hart in ‘n miljoen stukkies gebreek”, “brullende enjins”, “die skare juig”, “gru-ongeluk”, “groter en beter as ooit”, “rasperstem”, “lang, donker man”, “aan die einde van die dag”, “tonne sjarme”, ensovoorts.

 

  1. Wees op die man af.

Kort en kragtige sinne is baie effektief.

 

  1. Gebruik eenvoudige woorde wat nie jou sinne sal belemmer nie.

Eenvoudige woorde kan baie krag dra. Hou sinne ook eenvoudig, want skryfstukke wat oorskryf is, onderbreek die leser se konsentrasie.

 

  1. Daar moet logiese vloei wees van die een sin na die volgende

…en die een paragraaf na die volgende. Dit klink voor die hand liggend, maar dit is eintlik een van die moeilikste aspekte van goeie skrywery om aan te leer. Lees meer oor logiese vloei hier.

 

  1. ʼn Aanloklike skryfvernuf maak ongeloofwaardige stories geloofwaardig.

Die leser moet aangehits voel om verder te lees en moet tevrede wees met die uitkoms.

Vermy te veel besonderhede en moet die leser nie deur eindelose feite verveel nie. Jou doel is om hom in te trek sodat hy sal aanhou lees – of dit nou ‘n wetenskaplike artikel of prettige blog artikel is.

Nog ʼn manier om spanning te skep is om van boeiende tonele aan die einde van belangrike paragrawe of hoofstukke gebruik te maak.

 

 

Vertaal deur Gina van Staden

Leave a Reply

Top