DEUR YOLANDE VAN DEVENTERLeer skryf. Aanlyn skryfkursusse by SA Writers College

Annelien van Basten is ʼn taalkundige en skrywer om mee rekening te hou. Jy kan haar nie mis nie, die oomblik toe sy aangestap kom, kan jy aanvoel dat sy volkome in beheer van die situasie is. Sy het al vir maatskappye soos Carpe Diem Media en Avusa Media gewerk, en ook gehelp om die tydskrif Bella van die grond af te begin. Sy is ook tans die studieleier vir tydskrifjoernalistiek by SA Writers’ College en het vele publikasies agter haar naam, in ʼn verskeidenheid onderwerpe.

Ek het haar uitgevra oor haar pad as skrywer.

Hoe het skryf jou beroep geword?

Ek het op skool ’n wonderlike Engelse onderwyser gehad en was van die begin af mal oor taal, maar het dit nooit as ’n loopbaan oorweeg nie. My passie was nog altyd diere. Maar nadat ek besef het ek sal nie ʼn veearts kan wees nie (my hart is te sag), het ek aanvanklik besluit om regte by Tukkies te gaan studeer. Die lewe het egter ander planne vir my gehad en ek het ingeskryf vir Sielkunde by Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus, met taal as ʼn byvak. Na my tweede jaar het ek besef die tale is vir my, en my studies daarin voorgesit.

Waar het jou loopbaan begin?

My eerste werk was by Sake Beeld, wat eintlik vreemd is omdat finansies nie juis my veld van belangstelling is nie.

Watter groot lesse het jy in díe bedryf geleer?

Dat jy oor enigiets moet kan skryf en in alle aspekte van die beroep moet belangstel om ʼn sukses daarvan te kan maak. Niks wat jy op universiteit leer kan jou ooit voorberei vir wat die bedryf eintlik behels. Dit is ’n baie hands-on omgewing en ek het nooit net die werk gedoen waarvoor ek aangestel is nie, want jy raak sommer baie gou betrokke by alles wat nodig is om ’n tydskrif op die rak te kry. Die mediabedryf kan ook baie ongenaakbaar wees.

Watter wenke het jy vir aspirant vryskutjoernaliste en skrywers?

Vind uit wat jou passie is, dit waaroor jy graag wil skryf. Ontleed en teiken dan jou mark. Moenie opgee nie, hou aan probeer. Vryskutjoernalistiek is baie harde werk, maar ook baie bevredigend.

Hoe voel jy oor aanlynmedia?

Ek hou persoonlik baie van ʼn boek en ʼn tydskrif, maar aanlyn-media is verseker die toekoms van die mediawêreld. Dit spaar eenvoudig op alle gebiede en pas in by die tendense van ons tyd. Dink maar aan die hele beweging om groen te gaan, deur minder te druk en aan die jongmense wat heeltyd besig is op hulle slimfone en tablette. Minder hulpbronne is ook nodig en inligting is feitlik onmiddellik beskikbaar. Kyk ook hoe goed bekendes dit deesdae regkry om deur middel van sosiale media, nuus oor hulself te versprei.

Jy is self baie betrokke by aanlynmedia op die oomblik. Vertel ons meer van jou huidige projekte.

Ek is baie betrokke by die aanlyn tydskrif Troukoors en bemark ook my eie besighede: Elingua Editorial Services, Real Sound en Snap-Ease Boothtography aanlyn. Dit is baie ysters in die vuur, maar ek is iemand wat nie eers op vakansie kan stilsit nie!

Laastens, wat inspireer jou om te skryf?

Emosie is maar die inspirasie agter meeste van my beste skryfwerk. In die mediabedryf, met streng sperdatums, kom plig egter baie keer voor inspirasie. So jy moet altyd kan skryf, al voel jy nie noodwendig op die dag lus daarvoor nie.

Biografie

Tydskrifjoernalistieke kursus by SA Writers CollegeYolande van Deventer, is ʼn apteker van beroep en lektor aan die Universiteit van die Witwatersrand, en skryf reeds van ʼn jong ouderdom af. Haar opstel, Afrika: Die Dans en Dood, word in Sentraal Hoërskool se 1997 jaarblad gepubliseer. Sy het ook haar hand aan navorsing gewaag en ʼn suksesvolle verhandeling, in Farmaseutiese Chemie, in 2008 by NWU ingedien. Meer onlangs het sy ʼn tydskrifjoernalistiek kusrus ,deur SA Writers’ College, aangepak en ook ʼn paar artikels vir die gewilde aanlyn tydskrif, Troukoors, geskryf. In haar vrye tyd skryf sy graag humoristiese verhale oor haar reiservaringe deur Suider Afrika en gedigte.